

Die legendariese verhaal van die Seerowers het begin al voor die dae van DPK. DPK kan eintlik gesien word as een van die vreemde gevolge van die Seerower ideal.
Aan die einde van 2005 het twee Afrikaanse bands, Zinkplaat en Die Helde (wat toe nog as Merry Melodies bekend was) besluit om saam op ‘n trok teen die Weskus op te toer.
Uit ervaring het hulle geweet dat al die bekende Afrikaanse musikante altyd teen die Suid-en Ooskus getoer het.
Die weskus het nog ‘n duistere misterie gehad en was die begraafde skat waarna almal gesoek het.
Die hoofsanger van Zinkplaat, Bertie Coetzee, wat later met geërfde geld vir DPK op die been sou bring, het toe ‘n ou trok by ‘n boer geleen.
Blikkieskos is saam met instrumente en bokse wyn agterin gelaai en die eerste skip het uit Stellenbosch gevaar.
Die bemanning van hierdie eerste ekspedisie, min wetende van die tradisie wat hulle begin het, het die toer met mag en mening aangepak. Behalwe vir die 9 bandlede wat op die trok was, was daar ‘n paar ander belangrike figure soos Skaap Louw, Chris “The Bergh” v/d Merwe en Hugo “Fantastic”.
Elkeen van hierdie figure sou ‘n belangrike rol speel in die onststaan van die Seerower, maar niemand sou so belangrik wees soos Liam “Bison” Erwin nie, ongetwyfeld die mees geharde Seerower vanaf die dae van Blackbeard.
Bison, wat ‘n ervare roadie en vriend van Zinkplaat was, was besig om in plaaslike sirkels berug te word vir sy bonatuurlike alkohol toleransie en sy vermoë om te bly staan wanneer die res van die manne al in die sloot gaan uitpaas het. Op die derde dag van die toer was die trok in Port Nolloth. Dit is hier waar Bison en Skaap besluit het om in ‘n goedkoop tweedehandse winkel in te loop en vir hulle Sarongs aan te skaf.
Hierdie sarongs sou vir die res van die toer hulle belangrikste kledingstuk wees. Bison het op hierdie stadium ook ‘n plastiek swaard in die hande gekry wat hy met ‘n glitter-belt aan sy lyf vasgemaak en die wêreld sodoende ‘n veel interresanter en gevaarliker plek gemaak het.
Van daardie oomblik af het Bison in wese in ‘n seerower verander. Sy lewensstyl, spraakpatroon en mannerismes het elke dag nader aan die van ‘n seerower van ouds begin word. #As hy vir lank genoeg kon stilstaan sou hy heel waarskynlik sy eie been afgesaag het, net om met ‘n hout been te kan rondloop.
Sy tydlose woorde: “We set sail to the Port of Nolloth, where we will rape and pillage the townsfolk and aaaaaarrrrrghhhhh, we’ll drink and be merry men!” het alewig deur die trok weergalm.
Hierdie avontuur was toe ook die begin van Zinkplaat en Die Helde, wat almal op hulle eie manier die seerower leefstyl begin volg het, se liefde vir toere, musiekmaak, partytjie, ubuntoe en gees.
Na die toer is al die bemanning terug Stellenbosch toe waar die gerugte oor die toer versprei het. Die tentakels van die Seerower verhaal het genoeg mense bereik dat teen die einde van 2006, 45 nuwe siele lus was om ook die Seerower leefstyl hul eie te maak.
So is Die Eerste Avontoer begin. 6 Bands, 45 mense, almal op een bus en een kus. Die Seerower leefstyl, met Seerower Bison aan die spits van sake, het vinnig die verlore jeug van vandag begin aanlok. By tye het die hele bemanning van die bus, in die bus, op die grond langs die bus, op ‘n kaai of op ‘n sypaadjie geslaap. In sommige gevalle het hulle net nooit gaan slaap nie. Elke dorp is ingevaar asof dit oorwin moes word. Met goeie musiek in hulle ore en die harde lewe op die pad, is nuwe Seerowers tot die familie gevoeg.
Een van die voorbeelde hiervan was Seerower Phillip, wat ná die toer in Jeffreysbaai gedraai het, met slegs die klere aan sy lyf, van die bus afgeklim het en alleen Transkei toe duimgegooi het, waar hy stories vertel het en die immergewilde dobbelspeletjie “Mumpits” aan mense geleer het in ruil vir kos en slaapplek.
Die legende van Seerower Phillip, tesame met die stories wat nuwe Seerowers soos Tertius, Daneel, Murgie en Neil deur die land versprei het, het gemaak dat die Seerower fenomeen nog verder in 2007 gegroei het.
Teen die tyd wat Zinkplaat en Die Helde weer aleen op ‘n trok deur die land getoer het met die Ubuntoer, was daar weer 15 nuwe Seerowers soos Luca, Riek, Jandré en Frank wat die leefstyl aangeneem het. Na hierdie toer het Seerowers Phillip en Andre weer van die trok afgeklim en alleen Lesotho toe geduimgooi om hulself op daai rowwe waters te gaan toets.
In die tye tussen toere, is die Seerowers die mense wat jy in die dorp raakloop, die mense wat musiek ondersteun en toer T-hemde dra. Hulle is gewoonlik iewers besig om te partytjie en om die Ubuntoe vibes te versprei, altyd met ‘n glimlag op die gesig en ‘n storie om te vertel.
Die kultuur het so groot geword dat meer as ‘n honderd mense die mees onlangse toer kon meemaak. Die MK Tweede Avontoer het die term Seerower tot nuwe hoogtes gevat. Die toneel na enige gig het gelyk soos die musikale oordeelsdag, waar huilende massas agtergebly het, wensende dat hulle die skepe kan betree en hulle ou lewens agter kan laat, ‘n Seerower T-hemp en die wete dat hulle lewens verander is, al wat hulle kan troos. Die Seerowers, almal met ‘n oogklap, het dan verder gevaar en die volgende kusdorpie met die twee oorlogskepe gaan inval.
Seerower Bison se ideaal leef steeds voort op alle toere en tussenin word die legende met stories en herhinneringe aan die gang gehou. By partytjies en gigs versprei die woord. Die skepe vaar waar die kaarte net “Here-be-Monsters” te sê het. Die nuwe Seerower volk is aan die groei.
Bring vir ons daai horison.
-Seerower Jaco “Siele is vir Sussies” Adriaanse