Wie is ons?

n Seerower is ‘n anderste ding. Hulle is mense, maar hulle is ook bietjie meer as mense. ‘n Seerower bekommer homself nie oor die onnodige goed in die lewe nie. Seerowers weet dat dit wat saakmaak, is goedkoop of verniet, en die res is net ‘n keuse.

Seerowers lewe vir die avontuur in alles. ‘n Seerower word in ‘n sloot, of op ‘n sypaadjie, of in ‘n boom, of in iemand se klerekas, of op die strand, of in ‘n bus, of onder ‘n bus, of langs ‘n asblik, of in ‘n tent, of langs ‘n warm lyfie, of langs ‘n koei, of onder ‘n kar, of op ‘n jetty, of op ‘n verhoog, of onder ‘n verhoog wakker, en vat dit dan van daar af.

n Seerower aanvaar almal en alles as deel van die magtige misterie van die lewe. Moslem busdrywers en buddhistiese bassists, toer saam met Christelike kitaarspelers en atiëstiese tromspelers, met Joodse joernaliste en agnostiese ampdraers, Kabala kameramanne en Roomskatolieke roadies.

Seerowers maak musiek, luister musiek en ondersteun musiek. As daar niemand by ‘n konsert opdaag nie, sal ‘n Seerower aleen voor staan met ‘n bier in die hand en die musikante op die verhoog laat voel asof hulle by Oppikoppi speel. Vir ‘n Seerower bly die musiek nooit op die verhoog nie, dit word na konserte na afterparties toe gesleep. In tente en om vure word instrumente saam met bottels wyn en blikkieskos in ‘n kring omgestuur. ‘n Seerower sing saam, al ken die Seerower nie die woorde nie.

Seerowers werk goed in sirkels. Dan kan alles, alles, alles, makliker links om gestuur word. Hulle dans makliker in sirkels, hulle trance beter in sirkels, hulle lê makliker in sirkels.

n Seerower bring ‘n bietjie wilde natuurlikheid na die stad toe, en vat ‘n bietjie stadenergie na die natuur toe.

Seerowers dink anders. Seerowers hou van nuwe mense, en nuwe idees.

Seerowers volg nie die res van die wêreld se idee van dag en nag nie. Elke dag is nie ‘n nuwe begin nie, elke oomblik is ‘n nuwe begin.

Seerowers deel niks meer as die feit dat hulle alles met mekaar deel nie.

Lees hier meer oor die geskiedenis van die DPK seerowers ensomeer.